Hosanna
Dr. Leonie Pretorius

Profetiese Woord 2023: Let go and let God

Geskryf deur dr. Leonie Pretorius


Die profetiese woord vir 2023 is om te laat gaan, maar tog vas te hou soos nog nooit voorheen nie.


Glo dit of nie, maar Paulus skryf hier eintlik oor sy godsdiens wat hy moet laat gaan, want tydens sy Damaskus-ondervinding het hy eintlik gesien hoe blind hy al die tyd was toe hy gedink het alles gaan net oor godsdiens. Hy moes eers verblind word om werklik te kon sien dat daar 'n groot verskil tussen religion en relationship is.


Wat moet jy laat gaan waarmee jy grootgeword het of wat jy by mense geleer het? Hierdie profetiese woord is ‘n persoonlike tyd om by Jesus se voete te sit en so die belangrikste te kies.


Filippense 3:14 ... maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus.


Ons is besig met so baie dinge so baie triggers waaraan ons antwoord gee. Ons raak betrokke by soveel argumente wat nie ons oorlog is nie, en baie keer is hierdie battlefield die grootste in ons gedagtes – daardie stemme wat ons help om die triggers te verwerk of dit te vererger.


My kant, die kant van die vyand en Die Heilige Gees se kant ... En so kies ons na watter van die drie ons gaan luister, en voor ons ons kan kry, raak daardie gedagtes woorde en woorde raak ons dade en dade raak ons optrede en selfs nog later ons leefwyse.


Dit is soos om 'n oproep uit jou verlede te neem – jy gaan niks nuut hoor nie. In hierdie wedloop hardloop ons tog vorentoe en nie agteruit nie. Paulus help ons hier. Hy sê as die stemme uit ons verlede roep, moet ons begin vergeet wat gebeur het.


Daar is ‘n antwoord wat ons vryer maak as om net te vergeet; dit is om te vergewe. Soms is ons kwater vir onsself oor swak en dom besluite as wat ons vir die een is wat ons te na gekom het. Dan moet ons by die plek uitkom om te kan glo dat ons eendag die groter prentjie sal sien – al is dit net om ‘n getuienis daarvan te kan hê.


Ons moet vergewe sodat die gif wat vir ons deur daardie persoon bedoel was wat nie ons hele lewe vergiftig en soos ‘n wortel van bitterheid raak wat almal om ons se verhoudings met ons ook besoedel nie. Ons moet ook ons vergifnis van God aanvaar. So dikwels soos ons daardie vergifnis se versekering nodig het, moet ons met COMMUNION gaan sit om die beker van Jesus se bloed te drink tot vergifnis van ons sonde, want elke liewe keer wanneer ons weer daardie seer oopkrap, is ons kwaad van voor af en sondig ons dikwels weer in ons bitterheid. Om dan ook Jesus se liggaam te eet, en wanneer ons daardie brood eet, dit te doen in die geloof: Deur Sy wonde word elke wond van ons ook genees.


Ons moet ons begin uitstrek na die doel in ons lewe, want dikwels gebeur dinge wat die vyand graag sal gebruik om ons uit ons purpose te verkleineer of te wond dat ons nie langer wil aangaan nie.


Ons moet ons gereed maak vir die wedloop, want dit vat groot inspanning en geloof van voor af om te weet dat elke tree wat ek nou gee, is vorentoe – gefokus op die prys wat Jesus vir my het. Daardie prys wat Hy vir my betaal het aan die kruis om los te kom van die ou mens en die dinge wat daar gebeur het.


Gaan in jou Getsemane van vrese in en maak jou los van almal wat jou kan manipuleer omdat jy vrees. Werk deur daardie name en gebeurtenisse sodat jy kan vrykom van die trauma binding wat met triggers gepaard gaan.


Gee net soveel aandag aan die herstel van jou brein soos aan jou hart. Laat die lig daar ook aangaan sodat jy mooi kan sien hoe om elke foto wat uit die donkerkamer van jou siel uit gestuur word te verwerk.


Vertrou Jesus se woorde om sewentig maal sewe keer vergewe. Vertrou Sy woorde wat gees is, wat lewe is, vir die 365 keer (elke dag) om nie te vrees nie. Soek daardie Skrifte op en bid hulle elke dag.


Soos wat dit verligting gee wanneer jy 'n paniekaanval kry om op te staan en jou gesig in yskoue water te druk, soos om deur jou omgewing te stap en fisies aan voorwerpe te raak en te noem waaraan jy vat, so moet jy ook geestelik gaan raak aan daardie Skrif soos die vrou wat aan bloedvloeiing gelei het aan Jesus se soom van Sy kleed geraak het.
Leef minder uit mense se opinies oor jou as ou mens en jou foute en meer uit God se opinie.


Romeine 8:34 Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree.
Ons dra soms meer mekaar se laste as wat ons vir mekaar net bid. Die lam man se vriende het die regte ding gedoen toe hulle die dak oopgebreek het bo Jesus se kop en hulle vriend laat afsak het tot in Jesus se teenwoordigheid, en dit is ook ons antwoord om vir mekaar so te bid. Doen wat jy kan vir mekaar, maar laat dit oor aan Jesus vir wat net Hy kan doen.


Wat van jou alleenheid? Alleenheid hoef nie eensaamheid te raak nie. Gebruik daardie tyd om aan jouself aandag te gee. Gee vir jouself daardie liefde en daardie empatie om in daardie tyd gesond te word en jou los te maak van die ou mens en uit te sien na wat Die Here vir jou in ‘n nuwe kans in Sy planne in gedagte het.


Let go and let God – nooit sal jy alleen wees as God met jou is nie. Daar gaan dinge wees wat jy nie kan verander nie, maar verander jy sodat Heilige Gees jou verander en dan sal jy sien dat dinge om jou wel verander – dit raak vir jou belangriker of onbelangrik.


Leef ligter; gooi daardie vrag af wat jou so ontstel oor wat ander mense doen en wat in hulle lewens aangaan. Wys minder vinger – let go and let God – gee daardie mense aan God oor. Praat minder oor mense en meer met God oor daardie mense.


Let go and let God – die oomblik wanneer 'n arend begin sweef, sal jy altyd sien iewers onder hom is ‘n sterk storm of wind. Wag op die Here – let God en jy sal nuwe krag ontvang. Let go en soos ‘n arend sal jy sweef. Jy sal loop en nie mat word nie; jy sal hardloop en nie moeg word nie.


Jesaja 40:31 ... maar die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.

As jy van jare moeg is om aan ‘n stuk hout vas te hou van ‘n skip wat skipbreuk gely het, is dit tyd om daardie stuk te los en aan die reddingstou vas te hou wat Jesus vir jou uitgooi met hierdie profetiese woord waarmee jy kan identifiseer.


Jy kan mos nou glo Hy weet van jou. Hy sien jou raak. Hy hoor jou bid. Hierdie het jy nie verniet gelees nie; laat hierdie die stem raak wat jou aanmoedig om te los wat agter is en net te begin hardloop waar jy nou is – al hoe verder weg van dit wat jy weet jy moet van vergeet en mee klaarmaak. Vat met elke tree wat jy gee Heilige Gees se krag sodat jy in staat daartoe sal wees om in geloof hierdie wedloop te hardloop; dat jy deur Sy krag jou sal kan uitstrek om aan te gryp waarvoor jy gebore is en waarvoor God jou wil gebruik. Weet dan in hierdie wedloop gaan jy ander kan bemoedig met jou storie wat langs die pad moeg raak en wil uitsak. Hou jou oë gevestig op Jesus wat vir jou intree aan die regterhand van Abba Vader sodat jy die prys kan kry wat Hy vir jou betaal het aan die kruis, wat van jou meer as 'n oorwinnaar gemaak het.


Filippense 4:13 Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.


Jy kan let go, want jy kan LET GOD! En wanneer ons die laaste dag se datum van 2023 gaan skryf, sal ons weet God het ons reg aan die begin van 2023 geantwoord en Hy is altyd reg. In Sy grootheid gebeur dinge 1-2-3 ... Vir ons kan dit ook 1-2-3 gebeur deur te laat los, te vergeet en te gryp na wat Hy vir ons wil gee.