Job se ysige woordeskat

 

Ek dink nog altyd dat daar iets poëties omtrent Job en die winter is, maar Job se ysige woordeskat in dié Bybelboek vestig my aandag op die scenario van 'n onlangse ystydperk wat deur verskeie wêreldwye klimaatstoestande veroorsaak is, en wat waarskynlik ná die wêreldwye vloed gevolg het. Daar is meer verwysings na koue, sneeu, ys en ryp in Job as in enige ander boek in die Bybel.


Hoe kan 'n boek se woordeskat forensiese bewyse van globale klimaatstoestande wees? Om hierdie vraag te beantwoord, moet jy oorweeg hoe die woord "sneeu" oor die algemeen belangriker is vir Alaskiërs as vir Suid-Afrikaners. Stel jou voor persoonlike korrespondensie, soos e-posse of WhatsApp-boodskappe, tussen Suid-Afrikaners in vergelyking met dié van Alaskiërs. Wie sal herhaaldelik melding maak van sneeu, ys of sneeustortings? Anders as Suid-Afrikaners, gebruik Alaskiërs gereeld hierdie woorde. So sal Suid-Afrikaners baie meer oor braaivleis en biltong gesels, waar Alaskiërs dalk nie eers weet hoe om 'n braaibroodjie te maak nie. Selfs in formele regskonteks kan die vergelykende frekwensie van woordgebruik objektiewe bewys lewer van kommunikasiegewoontes rakende algemene lewenservarings.


Forensiese reëls erken dat herhalende gedrag, wat van toepassing op roetines en gedragsgewoontes is, kan help om feite oor niewaarneembare gebeure uit die verlede te bewys. Hoe gereeld 'n woord gebruik word, kan die belangrikheid van daardie woord of onderwerp aantoon omdat dit onthul waaraan 'n spesifieke segsman gereeld dink.
Voordat 'n boodskap gestuur kan word, moet dit saamgestel word. Kommunikasie begin met 'n kreatiewe keuringsproses. 'n Kommunikeerder moet vanaf 'n "leë sin" oorweeg wat belangrik genoeg is om oor te praat of te skryf. Die opstel van boodskappe vereis doelgerigte keuses uit die beskikbare opsies.


Hierdie besluitnemingsproses behels die insameling en interpretasie van relevante inligting, en dan waardevolle oordele oor wat gesê moet word, gevolg deur woorde, te selekteer en uit te druk om die boodskap doelbewus na die beoogde ontvangers oor te dra.


Dink aan die sneeu-en-ys-woordeskat wat in die lewendige dialoë van Job se boek gebruik word:


Job 6:15–17 My broers het troueloos gehandel soos 'n spruit, soos die bedding van spruite wat wegloop, wat troebel is vanweë die ys, waarin die sneeu hom verberg – in die tyd van gloeihitte verdwyn hulle; as dit warm word, droog hulle op uit hul plek.


Job 37:6–10 Want Hy gebied die sneeu: Val op die aarde! Ook die stortreën, ja, sy geweldige stortreëns. Hy verseël die hand van elke mens in die winter, sodat tot kennis kan kom al die mense wat Hy gemaak het. Dan gaan die wilde diere in skuilhoeke en bly in hulle lêplekke. Uit sy kamer kom die stormwind, en deur die wolkverstrooiers koue. Deur die asem van God word ys gegee, en die wye waters lê vas in die engte.


Job 38:22–23 Het jy gekom by die skatkamers van die sneeu? En het jy die skatkamers van die hael gesien, wat Ek opgespaar het vir die tyd van benoudheid, vir die dag van stryd en oorlog?


Job 38:29–30 Uit wie se moederskoot kom die ys te voorskyn? En die ryp van die hemel – wie baar dit? Die waters word hard soos 'n klip, en die oppervlakte van die watervloed sluit aanmekaar.


Koue kom uit die noorde. God se asem gee ryp, daar is skatkamers van sneeu en hael, en ys word gelewer soos geboorte! Klink die ysige woordeskat van Job soos Suid-Afrikaners wat praat of Alaskiërs? Job se boek, wat praat van gebeure wat 'n paar generasies ná die wêreldwye vloed plaasgevind het, bevat taal wat pas by die lewenservaringe van mense wat gedurende die Ystydperk ná die sondvloed geleef het.


Voor die wêreldwye vloed was die aarde skynbaar subtropies. Kort ná die sondvloed noem die Bybel egter ys gereeld. Ons het nog baie om te leer, maar ons weet met sekerheid dat die Bybel 'n lig werp op wat ons wêreld in perspektief plaas, insluitend die Ystydperk.


In werklikheid is dit noodsaaklik vir die korrekte begrip van die werklikheid. Dit strek tot moderne bekommernisse, soos aardverwarming en bedreigde spesies, omdat ons begrip van die toekoms gebou is op ons korrekte begrip van die verlede. As die mensdom God se Woord net ter harte neem, sou dit ons denke op elke gebied transformeer en 'n ongelooflike nuwe perspektief op die gebied van wetenskap en argeologie bied.

Hierdie blog is 'n uittreksel uit die boek Wetenskap en die Bybel deur Francois Terblanche. Die Ystydperk word volledig in dié boek bespreek. Bestel gerus 'n fisiese kopie of koop die boek op Amazon Kindle:


Wetenskap en die Bybel © 2023 Francois Terblanche. Alle regte voorbehou.